INLEIDING
Liggaamlik en emosioneel voel jy moontlik of jou beste jare reeds agter jou is, en dat jou beste geleenthede iets van die verlede is. Jy is moontlik vermoeid, ontmoedig, teneergedruk, of selfs getraumatiseer. Moontlik het jou drome – jou huwelik, loopbaan, of ambisies – inmekaar getuimel. Jy het moontlik sinies geword of alle hoop laat vaar.
Begrip van die ware Christelike leerstelling van die Hemel (nie die gewilde verdigsels van die Hemel nie) kan dit alles verander. Dit is die rede hoekom ek Heaven geskryf het, ʼn vollengte boek oor hierdie onderwerp wat handel met al die vrae wat mense oor hierdie grootse onderwerp te vra het. Die doel met hierdie boekie is om jou maar net ʼn voorsmakie te gee van die heerlike waarheid oor die Hemel.
In vervloë tye het God se volk ʼn bron van krag en perspektief gehad waarmee ons deesdae grootliks onbekend is: die Hemel. Dit was die middelpunt van hul bestaan en het rigting gegee aan hulle lewens. In samelewings van ons dag het die Hemel uit ons gesigsveld verdwyn.
“Elke keer wanneer ek aan die Hemel dink,” het ʼn leeraar vir my gesê, “maak dit my teneergedruk. Ek sal veel eerder ophou bestaan wanneer ek doodgaan.”
“Hoekom?” het ek gevra.
“Ek kan die gedagte aan eindelose verveling nie verdra nie. Om tussen wolke rond te sweef met niks anders te doen as om die snare van ʼn harp te streel nie…dis alles so verskriklik vervelig. Die Hemel klink nie veel beter as die Hel nie. Ek sal eerder uitgewis word as om die ewigheid in so ʼn plek deur te bring.”
Waar het hierdie godsgeleerde man wat in die Bybel glo so ʼn siening van die Hemel gekry? Verseker nie uit die Woord nie, waar die apostel Paulus sê dat om te vertrek en saam met Christus te wees by verre beter is as om op die aarde te bly (Filippense 1:23). My vriend was meer eerlik daaroor as die meeste, tog vind ek dat baie Christene dieselfde wanindrukke van die Hemel in gemeen het.
Ons onbybelse opvatting dat die Hemel nie ʼn werklike plek op aarde gaan wees nie maak ons blind vir wat die Woord eintlik sê. Ons hoor selde beskrywings wat vasvang wat die Bybel uitbeeld oor die Nuwe Aarde met ʼn groot hoofstad wat van kosbare stene gemaak is; ʼn Nuwe Aarde met bome en riviere, waar opgewekte mense in en uit gaan deur die poorte, betrokke in betekenisvolle verhoudings en produktiewe werksaamhede.
J.C. Ryle, ʼn Britse teoloog van die negentiende eeu, het gesê, “Ek bejammer die mens wat nooit aan die Hemel dink nie.” Ons kan ook sê, “Ek bejammer die mense wat nooit akkuraat aan die Hemel dink nie.” Na my mening is dit ons foutiewe sieninge wat ons beïnvloed om so selde aan die Hemel te dink.
Soos jy weldra sal sien, is die probleem nie dat die Bybel so min oor die Hemel te sê het nie. Ons let net nie op wat dit sê nie!
Die Huidige Hemel en die Toekomstige Hemel
Wat ons gewoonlik aan dink wanneer ons die woord Hemel hoor is wat teoloë na verwys as die tussentydse Hemel. Vir Cristene is dit waarheen ons gaan wanneer ons dood gaan. Dit is die plek waar ons sal woon totdat ons liggame opgewek word.
Ons Christen geliefdes wat al gesterf het is nou in hierdie, huidige, tydelike Hemel. (Hierdie is nie dieselfde as die onbybelse konsep van ʼn vagevuur nie. Die Bybel leer ons dat Christus die volle prys betaal het vir die kwytskelding van ons sondes, en ons kan dus niks doen om iets daarby te voeg nie.).
Die Hemel waarheen ons gaan wanneer ons dood gaan is ʼn plek sonder lyding, maar dit is nie die plek waar ons vir ewig gaan woon nie. Ons ewige tuiste, waarheen God sal neerdaal om in ons midde te wees, word genoem die Nuwe Aarde (Openbaring 21:1).
Wanneer die geskiedenis van die mens volbring is sê die Bybel met verwysing na die Nuwe Aarde, “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openbaring 21:3). Aangesien die Hemel, by definisie, die woonplek van God is, maak die feit dat Hy gaan neerdaal om saam met ons op die Nuwe Aarde te woon dit sinoniem met die Hemel.
Ons dink gewoonlik om Hemel toe te gaan is om ons plek te verlaat en na ʼn ryk van engele te gaan en by God in sy plek te woon. Maar die Bybel sê dat die uiteindelike Hemel sal wees wanneer God gaan neerdaal van sy plek om saam met ons in ons plek, die Nuwe Aarde, te woon.
Emmanuel, een van die name van Christus, beteken nie “ons met God nie”; dit beteken “God met ons.” Waar gaan Hy saam met ons wees? Op die Nuwe Aarde.
Ons het al gehoor daar word gesê, “Hierdie wêreld is nie ons tuiste nie.” Dit is waar, maar dis net ʼn halwe waarheid. Ons behoort dit te kwalifiseer deur te sê, “Hierdie wêreld – die aarde soos wat dit nou is, onder die vloek van sonde – is nie ons tuiste nie.” Ons behoort ook te sê, “Hierdie wêreld – die aarde soos wat dit eens was, voor sonde en die vloek van sonde – was ons tuiste.” En ons behoort by te voeg, “Hierdie wêreld – die aarde soos wat dit eendag sal wees, verlos van sonde en die vloek van sonde – sal ons tuiste wees.”
In die tussentydse Hemel sal ons saam met Christus wees, en ons blydskap sal volkome wees, maar dit sal nie ons permanente tuiste wees nie. Ons sal uitsien na die opstanding van ons liggame en ons vertrek na die Nuwe Aarde. (Ons geliefdes sal nie die Nuwe Aarde bewoon voor ons nie. Ons sal saam gaan om die Nuwe Aarde te bewoon.)
Die idee dat ons ʼn ontliggaamde toestand tegemoet gaan pas by Platoïsme en Oosterse mistiek, maar nie by die Christendom nie. Die Skrif sê daar is ʼn opstanding, trouens as daar nie was nie sou ons die ellendigste van alle mense wees (1 Korinthiërs 15:17-19). Op die Nuwe Aarde, word vir ons gesê, sal daar “geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien” (Openbaring 22:3). God is die soewereine heerser, en alle valse gode sal neergewerp word. Satan sal vir ewig onttroon word. Mense wat God verwerp sal vir ewig onttroon word. God sal permanent op sy troon wees. Die Onse Vader gebed sal dramaties beantwoord word: “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in hemel net so ook op die aarde” (Matthéüs 6:10).
ʼn Geregverdige mensdom, deur God op die troon geplaas om vanuit Eden oor die aarde te regeer, maar deur hulle eie sonde en Satan onttroon is, sal vir ewig deur God op die troon geplaas wees. “En hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid” (Openbaring 22:5). God se volk sal saam met Hom op aarde regeer, nie net vir ʼn duisend jaar lank nie maar vir ewig. Soos die engel vir Daniël gesê het, toe hy praat van ʼn aardse koninkryk wat die teenswoordige koninkryke van die aarde gaan vervang, “En die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in alle ewigheid, ja, tot in alle ewigheid” (Daniël 7:18). Christus sal die onbetwiste, absolute heerser van die heelal wees. Daarna, nadat alles aan Hom onderwerp is, sal Hy die koninkryk aan die Vader oorgee (1 Korinthiërs 15:28). Verloste mense sal God se onbetwiste, gedelegeerde heersers van die Nuwe Aarde wees. God en die mensdom sal in ewige geluk saam leef, hulle verhoudings vir ewig verdiep, namate die heerlikheid van God elke aspek van die nuwe skepping deurdring.
So sal die volk van God, volgens die Bybel, heers oor ʼn nuutgemaakte heelal, vanuit ʼn nuutgemaakte Aarde, met ʼn nuutgemaakte Jerusalem as die hoofstad. Lees sorgvuldig Openbaring 21-22 en baie ander skrifgedeeltes, en jy sal ontdek dat ons gaan eet, drink, werk, aanbid, leer, reis, en baie ander dinge ondervind wat ons nou doen.
Verwysings na “nasies” op die Nuwe Aarde dui aan dat beskawings nuutgemaak sal word, asook menslike kulture met onderskeidende etniese kenmerke (Openbaring 21:24,26). Die boom van die lewe sal in die middel van die stad wees, net so werklik as in Eden, en ons sal kan eet van ʼn wye verskeidenheid van vrugte (Openbaring 22:1-2). ʼn Groot rivier sal deur die stad vloei. Beide die natuur en menslike kultuur sal deel wees van die Nuwe Aarde.
God het verkies om dit so te maak dat nie net fisiese mense op die Nuwe Aarde leef nie, maar Hy het verkies om ʼn mens te word op daardie selfde Aarde. Hy het dit gedoen om die mensdom en die Aarde te verlos, en om vir ewig die teenwoordigheid van mense te geniet in ʼn wêreld vir hulle gemaak – ʼn wêreld wat die Nuwe Aarde genoem word (Jesaja 65:17; 66:22). Dit is waarna ons behoort uit te sien (2 Petrus 3:13).
Ons het nog nooit ʼn Aarde geken sonder sonde, swaarkry, en die dood nie – tog hunker ons daarna. God sê dat die wêreld wat ons – en die ganse skepping – na hunker, ʼn wêreld vrygemaak van die vloek van sonde, eendag ons s'n sal wees om in te leef … vir ewig (Romeine 8:19-23).
Sal die Hemel (die Nuwe Aarde) ʼn Werklike Plek Wees?
Jesus het aan sy disippels gesê, “kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:3). Hy maak gebruik van ruimtelike terme om die Hemel te beskryf. Die woord “waar” verwys na ʼn plek. Net so word beweging en fisiese bestemming aangedui met die frase “kom Ek weer en sal julle na My toe neem”.
As die Hemel nie ʼn plek in die volle sin van die woord is nie, sou Jesus gesê het dat dit was? Wanneer ons die Hemel afmaak as iets minder of anders as ʼn plek, stroop ons Christus se woorde van hulle betekenis.
Ons hunker nie na – geen liggaam, geen aarde en geen kultuur nie, maar na ʼn nuwe liggaam, Nuwe Aarde, en nuwe kultuur – sonder sonde en die dood. Dis alles deel daarvan om te hunker na die opstanding uit die dood, wat die hart en siel van die Christelike geloof is (1 Korinthiërs 15).
Jesus het aan sy disippels gesê, “In die wedergeboorte wanneer die seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Matthéüs 19:28).
Hy kon gesê het “met die vernietiging van alle dinge,” maar in plaas daarvan het hy “wedergeboorte” gesê. Die woorde “alle dinge” is vol van indrukke van hoe die Nuwe Aarde gaan wees. Wat weg sal wees is nie die Aarde en ons liggame nie, maar sonde, die dood en die vloek van sonde!
Petrus het gepreek, “Hom (Christus) wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige engele” (Handelinge 3:21).
In Heaven, die vollengte boek, haal ek dosyne skrifgedeeltes aan waar die profete gepraat het van die komende hernuwing van die aarde. Dis hoekom Petrus gesê het, “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ʼn nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13).
Hoe Sal die Hemel Wees?
Die Skrif gee aan ons baie beelde wat vol implikasies is oor die Hemel. Sit hulle bymekaar, en hierdie legkaartstukke vorm ʼn pragtige prentjie. Byvoorbeeld, ons word gesê die Hemel is ʼn stad (Hebreërs 11:10; 13:14). Wanneer ons die woord stad hoor, behoort ons nie kop te krap en te dink, Ek wonder wat dit beteken? Ons verstaan stede. Stede het mense, geboue, bedrywighede, byeenkomste, kuns, musiek, atletiek, gebeurtenisse van alle soorte, en goedere en dienste.
Die Hemel word ook beskryf as ʼn land (Hebreërs 11:16). Ons weet van lande. Ons weet ook hoe die Aarde is, en ons weet dus baie van hoe die Nuwe Aarde sal wees. As ons nie ons teenswoordige Aarde sonder riviere, berge, bome, en blomme kan voorstel nie, hoekom sal ons dan die Nuwe Aarde sonder hierdie kenmerke probeer voorstel?
As die woord Aarde enigiets beteken, beteken dit dat ons kan verwag om aardse dinge daar te kry – insluitende atmosfeer, berge, water, bome, mense, huise – en selfs stede, geboue, en strate (wat spesifiek genoem word in Openbaring 21-22).
Net soos wat ʼn nuwe motor ʼn beter weergawe is van ʼn ou motor – maar met al die nodige komponente (vier wiele, ʼn motor, transmissie, stuurwiel, ens.), so is die Nuwe Aarde ook ʼn vêr beter weergawe van die ou Aarde, maar met al die nodige fisiese komponente.
Die Nuwe Aarde sal die woonplek van God wees, maar dit sal ook deur God gevorm wees vir opgewekte mense om daar te woon. Ons sal lief wees vir ons ewige tuiste, en ons sal lief wees daarvoor om saam met Jesus en sy familie te wees – wat vir ewig ons familie sal wees.
Hoe Sal Ons in die Hemel Lyk?
Jesus het ʼn fisiese opgewekte liggaam gehad wat Hom toegelaat het om te loop, praat, en eet (Johannes 21:1-14; Lukas 24:36-43). Ons word gesê dat ons liggame soos syne sal wees (1 Korinthiërs 15:20, 48-49; Filippense 3:21; 1 Johannes 3:2).
Na sy opstanding het Jesus die disippels uitgenooi om Hom aan te raak en het Hy gesê, “Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ʼn gees [ontliggaamde gees] het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie” (Lukas 24:39).
Christus se fisieke opgewekte liggaam is die model vir ons opstandingsliggame op die nuutgemaakte Aarde. Na ons opstanding, sal ons nie geeste wees nie; ons sal fisiese menslike wesens wees. Baie mense glo daaraan dat ons vir ʼn duisend jaar lank op die ou Aarde sal leef (Openbaring 20:1-7). Maar selfs die wat verskil dat die Vrederyk letterlik verstaan moet word, stem saam dat ons vir ewig gaan lewe, na die finale opstand en oordeel, in opstandingsliggame op die Nuwe Aarde (Openbaring 21-22).
Wanneer God daarvan praat dat ons “nuwe liggame” gaan hê, trek ons ons skouers op en sê, “Ek kan my nie voorstel hoe ʼn nuwe liggaam gaan lyk nie”? Natuurlik nie. Ons weet wat ʼn liggaam is – ons het een al ons hele lewe lank – en ons kan onthou toe dit beter gelyk het! Ons kan onsself ʼn nuwe liggaam voorstel, sonder pyn en swakheid. Ons beste is nie agter ons nie – ons sal tot ʼn nuwe lewe opgewek word in ʼn nuwe liggaam op ʼn nuwe Aarde, alles vêr verby ons wildste drome.
In ons opstandingsliggame, sal ons so fisiek wees soos wat ons nou is. Nadat die Nuwe Aarde gevestig is en ons daarheen verhuis het, sal ons vir ewig fisieke wesens wees maar nie onderwerp aan sonde, die dood, leiding, en die vloek van sonde nie (Openbaring 21:4).
Jesus was ʼn timmerman. Timmermanne skep nie net dinge nie; hulle maak ook dinge reg wat herstel nodig het. Het ons liggame, denke, en houdings herstel nodig? Hy gaan ons herstel. Hy gaan die heelal vanself herstel.
Moenie God se plan en Christus se verlossingswerk onderskat nie. Hy het ons gemaak; ons liggame en die aarde. Hy is daaraan toegewei om hulle te herstel – permanent.
Wat Sal Ons vir ʼn Ganse Ewigheid Doen?
Wanneer ons doodgaan verlaat die menslike gees die liggaam (Prediker 12:7). Ons gaan of Hemel of Hel toe (Lukas 16:22-31). Soos gedemonstreer in die verhaal van die ryk man en Lasarus – en deur Christus bevestig toe Hy vir die rower gesê het dat hy “vandag” saam met Hom in die paradys sal wees (Lukas 23:43) – is daar oombliklike bewustelike bestaan na die dood, in beide die Hemel en die Hel (2 Korinthiërs 5:8; Openbaring 6:9-11; Filippense 1:23).
In beide die tussentydse Hemel en op die Nuwe Aarde, sal ons ons grootste verlustiging in God vind. Ons sal Hom aanbid en dank namate ons sien hoe Hy geopenbaar word in die wonders van die skepping, asook in ons mede skepsels.
Boonop, hoe wonderbaarlik dit ookal mag wees, het God besluit dat ons Hom daadwerklik gaan help om die heelal te bestuur (Lukas 19:11-27)! Hy sal aan ons nuutgemaakte denke en liggame gee, sodat ons heel mense sal wees, vol energie en visie, gretig om tot eer van God en ons verryking nuwe projekte te onderneem.
Ons sal saam met Christus oor die Nuwe Aarde regeer, waar ons leierskap en outoriteit sal uitoefen, terwyl ons belangrike besluite neem. Dit impliseer spesifieke, gedelegeerde verantwoordelikhede vir hulle onder ons leierskap, asook spesifieke verantwoordelikhede wat aan ons gegee is (Lukas 19:17-19). Ons sal teikens stel, planne beraam, en idees met mekaar deel. Ons beste werksdae op Aarde – wanneer alles beter eindig as wat ons beplan het, wanneer alles betyds gedoen word, wanneer elkeen in die span saamtrek en mekaar geniet – is maar net ʼn voorsmakie van die blydskap wat ons gaan put uit ons werk in die Hemel.
In die Hemel, gaan ons rus (Openbaring 14:13). Ons weet wat dit beteken om te rus. Ons sal ook wil rus (Hebreërs 4:10-11). Ons sal Christus daar dien, werk tot sy eer. Ons weet wat dit beteken om te werk. Ons sal wil werk. Ons sal werk sonder enige van die pynlike arbeid wat gevolg het op die vloek van sonde, en nou vir ewig gelig sal word (Openbaring 22:3).
Hoe Sal Ons Verhouding Met God Wees?
Die gedagte om God te sien is skokkend en byna lasterlik vir enigiemand wat die Ou Testamentiese leer van die heerlikheid en majesteit van God verstaan (Exodus 33:18-23). Ons is sondaars en dit is bo ons denke om God se aangesig te sien.
Tog sê Openbaring 22:4 van God se nuutgemaakte mense op die Nuwe Aarde, “Hulle sal sy aangesig sien.” Dit beteken dat iets buitengewoon teen hierdie tyd met ons moes gebeur het. Dit is slegs omdat ons in Christus volkome regverdig sal wees, in ons opstandingsliggame, onbevlek deur sonde, dat ons in staat sal wees om God te sien en te bly lewe. Om God te sien sal ons grootste vreugde wees. Ons sal nie net sy gesig sien en lewe nie – ons sal heel waarskynlik wonder of ons ooit gelewe het voordat ons sy gesig gesien het!
Teoloë van vergange dae het gepraat van die “beatific vision,” wat beteken het “ʼn gelukbringende gesig.” Die gesig waarvan hulle gepraat het was God Homself.
Die God wat in ontoeganklike lig woon het toeganklik geword in die persoon van Jesus (Johannes 1:14). Mense kon na Jesus kyk en God sien. Dit kom voor of Openbaring 22:4 daarvan praat dat ons die gesig van God die Vader werklik gaan sien.
Om die gesig van God te sien, moet ons volkome regverdig wees in Christus, onbevlek deur sonde, in die heerlikheid van ons opstandingsliggame. “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matthéüs 5:8).
Om in die oë van God te kyk sal wees om te sien wat ons nog altyd na gehunker het om te sien: die persoon wat ons gemaak het en vir wie ons gemaak is. Ons sal Hom sien op die plek wat Hy vir ons gemaak het, en waarvoor ons gemaak is. Om God te sien sal wees soos om alle ander dinge vir die eerste keer te sien. Ons sal ontdek dat om God te sien ons grootste vreugde is, en die lewe vanself. Elke ander vreugde van die Hemel sal hieruit voortspruit, en vloei uit die fontein van ons verhouding met God.
Deur God te aanskou en te ken, sal ons onsself , en alle ander mense en gebeurtenisse, deur die oë van God sien. Ons sal die ewigheid deurbring in aanbidding, ontdekking, en om ons grote God te dien. Ons sal sy asemrowende skoonheid sien in alles en almal om ons heen.
Sal die Hemel nie Eentonig Wees nie?
Wanneer jou beeld van die ewige Hemel ʼn ontliggaamde toestand is, het jy rede om eentonigheid te vrees – omdat God ons nie vir so ʼn wêreld gemaak het nie. Maar wanneer jy die betekenis van ons liggaamlike opstanding en die nuwe heelal verstaan, sal alle gedagtes van eentonigheid verdwyn.
Die Nuwe Aarde sal ʼn plek wees waar die impuls om huis toe te kom en uit te reik met ʼn nuwe avontuur beide ten volle versadig sal wees. Dit sal ʼn plek wees waar ons aanhoudend ontdek – waar alles altyd vars is, en die besit van iets so goed is as die najaag daarvan. Tog is dit die plek waar ons volkome tuis sal wees – waar alles is soos dit behoort te wees en waar ons daardie geheimsinnige iets vind, onverminderd, wat ons nooit ten volle in hierdie lewe gevind het nie.
Ons sal nie meer na Eden verlang nie. Ons sal uiteindelik alles ondervind wat God vir ons in gedagte het. Omdat die vreugde van die Hemel sal oorloop van die veelsydige wonders van God, sal die Hemel eindeloos fassinerend wees, net soos wat God eindeloos fassinerend is.
Sal ons ooit moeg word daarvan om God te aanbid? Augustinus het gesê, “Ons sal nooit uitgeput word deur God te aanbid nie, ook nie deur sy liefde nie. As jou liefde sou faal, so sal jou aanbidding; maar as jou liefde vir ewig is, omdat die skoonheid van God nie sal verflou nie, onuitputbaar, moenie vrees dat jy ooit sonder die krag sal wees om Hom te aanbid nie, Hom vir wie jy altyd die krag sal hê om vir ewig lief te hê.”
Sal Daar Diere Op die Nuwe Aarde Wees?
Ek het twee volle hoofstukke oor hierde fassinerende onderwerp ingesluit in die boek Heaven, maar ek gaan probeer om die hoofgedagtes hier op te som.
Diere was deel van God se volmaakte oorspronklike plan vir die Aarde en die mensdom. “God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was” (Génesis 1:25).
Omdat diere ʼn betekenisvolle deel was van lewe op die oorspronklike Aarde en die Skrif dit duidelik maak dat God die aarde gaan nuutmaak net soos wat hy die mensdom gaan nuutmaak, is dit logies dat diere deel gaan wees van die Nuwe aarde. (Hoekom sal hulle nie wees nie?)
Ons word gesê dat diere, saam met die res van die skepping, hunker na die verlossing wat hulle s’n sal wees met die verlossing van ons liggame, met die opstanding (Romeine 8:19,23). Hulle wag daarvoor en hulle hunker daarna, omdat hulle deel daarvan sal wees.
Die ganse skepping, ingeslote diere, plante, en die natuur vanself, het saam met die mensdom geval, so sal die ganse skepping saam met ons opstaan, as begunstigdes van Christus se verlossingswerk.
Jesaja 11, 60, en 65 beeld diere uit op die Nuwe Aarde. (Vir redes wat ek in die boek verduidelik, kan die toepassing van hierdie skrifgedeeltes nie beperk word tot net die Vrederyk nie.)
God se plan vir ʼn nuutgemaakte aarde na die vloed – die oordeel met water – het duidelik diere betrek. Sou ons nie verwag dat sy plan vir ʼn nuutgemaakte Aarde na die toekomstige oordeel met vuur op dieselfde wyse diere insluit nie? Die bevryding van die mensdom en diere op die ark is ʼn uitbeelding van die opstanding, waardeur mense en diere gered word om op die Nuwe Aarde te leef. Aangesien, volgens Romeine 8, dit hulle is wat nou ly en kreun wat verlos sal word, is dit waarskynlik dat sommige diere op die huidige Aarde nuutgemaak sal word om op die Nuwe Aarde te leef.
Omdat die Nuwe Aarde aards sal wees, behoort ons nie verbaas te wees om te begryp dat dit diere sal hê nie. Net soos al God se ander skeppings, sal hulle sy attribute verkondig en ons sal vreugde vind in God deur vreugde te vind in hulle.
Sal Ons In die Hemel Ons Eie Wonings Hê?
Jesus het gesê, “In die huis van my Vader is daar baie wonings … Ek gaan om vir julle plek te berei” (Johannes 14:2). Die woord plek is in die enkelvoud, maar wonings is in die meervoud. Dit sê dat Jesus vir elkeen van ons ons eie kleiner woonplek wat deel is van ʼn groter plek in gedagte het.
Die woord kamer is snoesig en intiem. Die terme woning en plek praat van ruimte. Dit is die Hemel: ʼn plek wat beide ruim en intiem is. Sommige van ons geniet snoesigheid wat in ʼn privaat plek is. Sommige van ons geniet groot ruimtes – ʼn groot, oop spasie. Meeste van ons geniet beide. Die Nuwe Aarde sal beide bied.
Dit is onwaarskynlik dat die Hemel identiese woonplekke sal hê. God het verskeidenheid lief. Wanneer ons die betrokke plek sien wat Hy vir ons voorberei het – nie vir die mensdom in die algemeen nie, maar vir elkeen van ons – sal ons onsself verbly. Ons sal begryp dat dit waarlik die volmaakte woning is, pasgemaak vir ons.
Nadat Hy gepraat het van die onregverdige bestuurder se begeerte om aardse besittings te gebruik sodat “hulle my in hulle huise kan ontvang” (Lukas 16:14), het Jesus vir sy volgelinge gesê om gebruik te maak van aardse besittings (Mammon) en vriende te maak deur ʼn verskil te maak in hul lewens op Aarde. Die rede? “Sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang” (v.9).
Dit kom voor of ons “vriende” in die Hemel hulle gaan wees wie se lewens ons op Aarde aangeraak het en wie hul eie “ewige wonings” sal hê. Dit lyk of Lukas 16:9 sê dat hierdie “ewige wonings” plekke sal wees waar ons gaan bly en die geselskap van ons vriende gaan geniet.
Omdat baie mense nie verstaan dat die uiteindelike Hemel die Nuwe Aarde gaan wees nie, kom dit nooit by hulle op om hierdie skrifgedeelte letterlik op te neem nie. Hulle dink “ewige tente” is ʼn algemene verwysing na die Hemel. Maar Christus sê tog sekerlik nie dat ons Hemel toe sal gaan omdat ons ons geld wys bestee het nie! In die gelykenis is die “ewige tente” die Hemel se ekwivalent van privaat wonings waarin die onregverdige bestuurder op Aarde kon bly. Aangesien Jesus ons ʼn woning en kamers en plekke belowe het, en ons weet dat ons in liggame sal wees op die Nuwe Aarde, hoekom sal ons hierdie belofte nie letterlik opneem nie?
Wat Sal Nie In die Hemel Wees nie?
Geen dood, geen swaarkry. Geen begrafnis-ondernemings, aborsieklinieke, of sielkundige inrigtings nie. Geen verkragting, vermiste kinders, of dwelm rehabilitasie inrigtings. Geen dwepery, geen aanvalle en moord. Geen kommer of depressie of ekonomiese afplattings. Geen oorloë, geen werkloosheid. Geen angs oor flaters en misverstande. Geen misdadigers. Geen slotte. Geen dood. Geen rou. Geen pyn. Geen eentonigheid.
Geen artritis, geen gestremdheid, geen kanker, geen belasting, geen rekeninge, geen rekenaarprobleme, geen onkruid, geen bomme, geen dronkenskap, geen verkeersknope en ongelukke, geen septiese tenke. Geen verstandelik vertraagdes. Geen onwelkome e-pos.
Hegte vriendskappe maar geen klieks, lag maar geen bespotting. Intiemheid, maar geen versoekings tot imoraliteit. Geen bedekte agendas, geen skadutransaksies, geen verraad.
Dink aan maaltye waar stories vertel word, lag, en blydskap, sonder vrees vir onsensitiewi-teit, onwelvoeglike optrede, woede, skinder, wellus, jaloesie, gekrenkte gevoelens, of enigiets wat blydskap vertroebel. Dit sal die Hemel wees.
Daar sal nie kerke of tempels in die nuwe heelal wees nie, nie omdat hulle sleg is nie, maar omdat hulle nie nodig sal wees nie. Dit sal nie vir ons nodig wees om in die teenwoor-digheid van God getrek te word nie. Ons sal daar leef, aanmekaar en bewustelik. Ons sal God ons diepste dank offer, ons sal Hom saam aanbid en loof, of ons nou in ʼn tuin werk, sing, fietse ry, of koffie drink (geen rede om te dink daar sal nie koffiebome op die Nuwe Aarde wees nie).
Jesus het gesê, “Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag. Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is ... Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel” (Lukas 6:21-23).
Niemand sal ooit honger gaan nie, en almal sal versadig wees. Niemand sal ween nie, almal sal lag. Dit is die belofte van Jesus. Maak staat daarop.
Sal Tyd Nie Langer In die Hemel Bestaan nie?
Ons sal vir ewig as sterflike wesens leef. God, wat tydloos is, kan Homself met ons versoen deur tyd binne te dring, maar ons kan nie onsself met tydloosheid versoen nie omdat dit ʼn vereiste van oneindigheid is.
Die frase “en tyd sal daar nie meer wees nie” kom van ʼn lied en nie die Bybel nie. Openbaring 8:1 praat van “stilte in die hemel omtrent ʼn halfuur lank.” Selfs die teenwoordigheid van musiek in die Hemel impliseer tyd, omdat ritme, maat en tussen-poses, alles eie aan musiek, aan tyd gekoppel is. (Wat is ʼn halfnoot of ʼn kwartnoot sonder tyd?) Liedere, net soos gesprekke, het ʼn begin, middel, en einde.
Sommige mense verwys na 2 Petrus 3:8 as bewys dat tyd opgeskort is in die Hemel. Hierdie vers verwys egter na God en nie menslike wesens nie. Wanneer dit sê, “dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag,” praat dit van God se oneindigheid. Hy bestaan buite tyd en ruimte, maar nie ons nie. As sterflike wesens, het Hy ons geskape om binne tyd en ruimte te leef. Die Hemel tree ooglopend die volgorde van tyd op die Aarde binne, reg tot waar die inwoners van die Hemel hulle verbly oor gesprekke op die Aarde (Lukas 15:7). Die martelare is op die uitkyk en sien uit na oordele op die Aarde wanneer hulle God vra, “Hoe lank?” en daar vir hulle gesê word “dat hulle nog ʼn klein tydjie moes rus” (Openbaring 6:9-11). Om te rus (wag) het betrekking op tyd.
In die boek Opebaring sien ons ʼn aanhoudende interaksie tussen die Hemel en opvolgende gebeure op die Aarde. (Dit is in teenstelling met die gedagte dat mense in die Hemel afgesny is van of geen belang het in dit wat op die Aarde gebeur nie).
Sal Ons Alles Weet Wanneer Ons In die Hemel Kom?
God alleen is alwetend.
God sien alles duidelik en met volle begrip. In die Hemel sal ons dinge met duidelikheid sien (1 Korinthiërs 13:12). Maar ons sal nooit met volle begrip sien nie. Ons sal baie meer weet as wat ons ooit geweet het, maar ons sal nooit alles weet nie, omdat ons nooit God sal wees nie.
In die Hemel sal ons sonder foute wees, maar sonder om te weet dat alles sonder fout is. Dit is deel daarvan om sterflik te wees. Die engele weet nie alles nie, en hulle hunker daarna om meer te weet (1 Petrus 1:12). Hulle is foutloos maar sterflik. Behoort ons nie te verwag om, net soos die engele, na meer kennis te hunker nie?
Ons gaan vir ʼn ganse ewigheid voortgaan om hierdie groter kennis waarna ons op soek is te verkry. God verplaas ons na hemelse plekke “sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade en goedertierenheid” (Efésiërs 2:6-7). Dit beteken dat God Homself voortdurend aan ons gaan openbaar tot in alle ewigheid.
Dit is dus duidelik dat ons in die Hemel gaan leer. Wanneer ons in die Hemel kom sal ons waarskynlik begin met die kennis ten tye van ons dood. (Buitendien, ons sal rekenskap moet gee van ons lewens, en dit verg kennis.) God mag moontlik ons kennis regstel en vermeerder. Ek veronderstel dat Hy nuwe dinge aan ons sal openbaar en ons sal bring op ʼn weg van ewig leer. As ons uiteindelik in ons nuutgemaakte liggame met ons nuutgemaakte verstand is, behoort ons vermoë om te leer grootliks te vermeerder.
Jesus het aan sy disippels gesê, “Leer van My” (Matthéüs 11:29). Al ken ek hulle al vir baie jare lank, leer ek telkens nuwe dinge van my vrou, dogters, en intieme vriende. As ek altyd iets nuuts kan leer van sterflike, beperkte menslike wesens, sal ek sekerlik vêr meer kan leer van ons alwetende en almagtige Skepper.
Sal Ons Onthou Wat Op die Aarde Gebeur Het?
Na die dood, het die martelare soos uitgebeeld in Openbaring 6:9-11 ten minste sommige van die dinge wat op Aarde gebeur het duidelik onthou, ook die groot lyding wat hulle ontbeer het. As hulle dit kon onthou, wat sou hulle nie kon onthou nie? Daar is geen rede om te aanvaar dat ons in die Hemel ons lewens op die Aarde gaan vergeet nie. Trouens, ons sal waarskynlik daar baie meer onthou as hier, en ons sal moontlik sien hoe God en engele vir ons ingegryp het toe ons dit nie besef het nie.
In die Hemel, word hulle wie slegte dinge op die Aarde getrotseer het vertroos (Lukas 16:25). Hierdie vertroosting impliseer geheue van dit wat gebeur het. As daar geen geheue van die slegte dinge sou wees nie, wat sou die nood daarvan wees, die doel, of die aard van hulle vertroosting?
Na ons dood sal ons rekenskap gee van ons lewens op die Aarde, selfs van spesifieke optredes en woorde (2 Korinthiërs 5:10; Matthéüs 12:36). Gegewe ons verbeterde verstand en helder denke, behoort ons geheue meer, nie minder skerpsinnig te wees oor ons lewens wat ons op die Aarde gely het. Ons moet sekerlik die dinge onthou waarvoor ons rekenskap moet gee. Omdat ons verantwoorde-lik gehou gaan word vir baie meer as wat ons nou kan onthou, sal ons geheues waarskynlik ook baie beter wees.
Die Hemel reinig ons, maar verander of wis nie ons oorsprong of geskiedenis uit nie. Ons sal ongetwyfeld God se genadewerk in ons lewens onthou, hoe Hy ons vertroos, bemoedig, gedra, en bemagtig het om vir Hom te lewe. Die mens se geskiedenis sal onthou word op die Nuwe Aarde aangesien daar gedenktekens gaan wees vir die twaalf stamme en die apostels (Openbaring 21:12-14). Die spykermerke in Christus se hande en voete in sy ewige opstandingsliggaam (Johannes 20:24-29) is bewys daarvan dat sy lyding en verlossing – en die feit dat ons sondes dit genoodsaak het – nie vergeet sal word nie.
Kan Hulle In die Teenswoordige Hemel Sien Wat Op die Aarde Gebeur?
Die antwoord is ja, ten minste ten dele. Die martelare, terwyl hulle rreds in die Hemel is, roep uit, “Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewo-ners van die aarde nie?” (Openbaring 6:9-11).
Duidelik het hierdie mense nie alleen onthou wat met hulle op die Aarde gebeur het nie, maar hulle het ook geweet dat God nog nie sy oordele oor hulle vervolgers uitgestort het nie. Na hulle dood weet hulle iets van dit wat op die Aarde gebeur het, en wat nie gebeur het nie. Sê dit nie dat hulle gebeure op die Aarde kan sien nie?
Wanneer Babilon neergewerp word, sê ʼn engel van dit wat op die Aarde gebeur, “Verbly jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete, omdat God julle oordeel aan haar voltrek het!” (Openbaring 18:20). Die feit dat hy spesifiek met mense praat wat in die Hemel woon, dui aan dat hulle bewus is van dit wat op die Aarde gebeur.
Wanneer gelowiges saam met Christus terugkom om sy Vrederyk te vestig (Openbaring 19:11-14), lyk dit ondenkbaar of hulle onkundig sou bly oor die voleinding van die mens se geskiedenis wat op die Aarde plaasvind. Die beeld van gelowiges in die Hemel wat salig onbewus is van dit wat op die Aarde aan die gang is, is sonder enige gronde. Per slot van sake, God en sy engele en die gelowiges vanself is op die punt om terug te kom vir die finale geveg in die geskiedenis van die heelal, waarna Christus as koning gekroon gaan word. Hulle op die Aarde mag onkundig wees oor die Hemel, maar hulle in die Hemel is nie onkundig oor die Aarde nie. Natuurlik, in die ewige toestand sal ons nie net sien wat op die Aarde gebeur nie, maar ons sal ons daaglikse lewens op die Nuwe Aarde leef!
As Mense In die Hemel Bewus is Van Slegte Dinge Wat Op die Aarde Gebeur, Hoe Kan Dit Werklik die Hemel Wees?
Baie boeke gaan van die standpunt uit dat hulle in die Hemel nie bewus kan wees van mense en gebeure op die Aarde nie, omdat hulle kwansuis ongelukkig gemaak sou word deur al die lyding en boosheid – en die Hemel so iets minder maak as die Hemel.
Ek glo hierdie argument is ongegrond. Per slot van sake, God weet haarfyn wat op die Aarde gebeur, tog word die Hemel nie verminder deur daardie kennis nie. Die engele weet op soortgelyke wyse wat op die Aarde gebeur, tog geniet hulle die Hemel. Trouens, die engele sien die smarte van die Hel, maar dit ontken nie hulle blydskap in God se teenwoordigheid nie (Openbaring 14:10). Abraham en Lasarus het die ryk man se smarte in die Hel gesien, maar dit het nie tot gevolg gehad dat die Paradys opgehou het om die Paradys te wees nie (Lukas 16:23-26). Ek sê nie dat ons in die Hel sal kan sien nie, maar hierdie skrifgedeeltes bewys sekerlik dat niks wat God se volk op die Aarde kan sien, die Hemel vir ons sal bederf nie. Ons geluk in die Hemel sal nie gebasseer wees op onkundigheid nie, maar op perspektief.
Ons behoort aangemoedig te wees dat ons geliefdes wat by Christus is nie in ʼn staat van onkunde is nie, maar daadwerklik belangstel in God se Koninkryk op die Aarde. Dit is waarskynlik dat hulle ons aanmoedig in ons diens van die Koning. Hebreërs 12:1 sê dat, “ons so ʼn groot wolk van getuies rondom ons het.” Dit praat van skares wat op ʼn pawiljoen saamgekom het om die atlete op die veld onder hulle dop te hou (maar dit kan ook eenvoudig verwys na voorbeelde van gelowiges uit die verlede wat ons moet navolg).
Die vertrek van gelowige geliefdes is nie die einde van ons verhouding met hulle nie, dis slegs ʼn onderbreking. Ons het hulle nie verloor nie, omdat ons weet waar hulle is. Hulle ervaar die blydskap van Christus se teenwoordigheid in ʼn plek so wonderlik dat Christus dit die Paradys genoem het. En eendag, so word ons gesê, sal ons teruggebring word in ʼn manjefieke reünie, “en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonisense 4:17-18).
Sal Ons Herenig Word Met Ons Dierbares en Hulle Herken In die Hemel?
Om saam met Christus te wees sal die grootste vreugde van die Hemel wees. Die volgende grootste vreugde sal wees om met ons dierbares wat dood is te herenig. Die sekerheid van die uiteindelike reünie is so kosbaar dat dit die afskeid verdraagsaam maak.
Die Skrif praat nêrens van ʼn “geheue uitwissing” wat tot gevolg het dat ons familie en vriende nie sal herken nie. Trouens, as ons nie ons dierbares gaan ken nie, sal die “bemoediging” van die reünie in die lewe hierna, wat in 1 Thessalonisense 4:14-18 van gepraat word, geen bemoediging hoegenaamd wees nie. Die teoloog, J.C.Ryle, het van hierdie skrifgedeelte gesê, “Daar sou geen punt gemaak word met hierdie woorde van bemoediging as dit nie was vir die wedersydse herkenning van gelowiges nie. Die hoop waarmee hy moeë gelowiges aanjuig is die hoop om hul dierbares weer te sien … Op daardie oomblik, wanneer ons wat gered is ons verskillende vriende in die hemel gaan ontmoet, sal hulle ons oombliklik ken en sal ons hulle oombliklik ken.”
Met die verheerliking van Jesus op die berg, was Moses en Elía deur die drie disippels herken, al was hulle nie vertel wie die twee manne was nie, én hulle nie voorheen geweet hoe hulle gelyk het nie (Matthéüs 17:1-4). Dit kan beteken dat ons mense van wie ons weet oombliklik mag herken, al het ons hulle nog nooit van tevore ontmoet nie, moontlik as gevolg van kenmerkende eienskappe wat uit hulle fisiese voorkoms straal. As ons mense herken wat ons nooit op die Aarde geken het nie, sal ons sekerlik mense herken wat ons geken het!
Christus se volgelinge sal die voorreg hê om uiteindelik elke volgeling van God wat ooit geleef het te ontmoet. (Ek het ʼn lys van dierbares wat ek weer wil sien, en ook ʼn lys van hulle na wie ek uitsien om te ontmoet – wie is op jou lys?) Wat ʼn groot avontuur sal dit nie wees om aanbiddend die Nuwe Aarde en nuwe heelal te bewoon en te verken, saam met ou vriende en nuwes.
Sal Daar Huwelike en Gesinne In die Hemel Wees?
Jesus het gesê dat nuutgemaakte mense nie getroud sal wees nie (Matthéüs 22:30). Tog maak die Skrif dit duidelik dat daar wel huwelikke in die Hemel sal wees. Daar sal een huwelik wees, tussen Christus en sy bruid.
Ons hunker na ʼn volmaakte huwelik. Dis presies wat ons sal hê – ʼn volmaakte huwelik met Christus.
My vrou, Nanci, is my beste vriend en my suster in Christus wat die naaste aan my is. Wanneer ek haar in die Hemel sien, sal ek vrae hê soos, “Was jy my vrou? Het ons nie kinders gehad nie? Dink jy hulle sal my onthou?” Die idee dat ons nie ons intiemste aardse verhoudings gaan onthou nie, is belaglik. Dit impliseer dat ons daaglikse aardse lewens geen gevolg in die ewigheid het nie, terwyl die Skrif die tenoorgestelde vir ons leer. Jesus het gesê dat die menslike instelling van huwelike op ʼn einde gaan kom wanneer die doel, om die huwelik tussen Christus en sy bruid te bespoedig en uit te beeld, vervul is (Efésiërs 5:23-32). Hy het egter nie gesê of die indruk gelaat dat die diep verhoudings wat tussen getroude pare opgebou is tot ʼn einde gaan kom nie. Trouens, Nanci en ek verbly ons in die feit dat ons saam deel sal wees van ʼn volmaakte huwelik met Christus.
God is ons Vader, ons is sy kinders, en ons is mekaar se broers en susters. Ons is Christus se bruid, en Hy is ons eggenoot.
Dit ís dan so dat ons huwelike en gesinne in die Hemel sal hê. Hulle wie die naaste aan ons is op die Aarde – asook in baie gevalle ons aardse familie – sal op natuurlike wyse die kernverhoudings opmaak waarmee ons in die Hemel sal begin. (Ons sal ons herhinneringe saambring na die Hemel, en daardie herhinneringe verbind ons aan mense). Hiervandaan sal ons uit beweeg, en nuwe vriendskappe vorm sonder om ooit enige van die oues af te staan nie.
Die Hemel is waar ons uiteindelike familie en ons beste vriende gaan wees – asook baie wat ons nog nie ken nie. Ons verhoudings met dierbares sal beter wees as ooit. Die Hemel is ʼn plek waar alles en almal wen, nie verloor nie. (Trouens, jy het dalk nog nie die beste vriend wat jy ooit sal hê ontmoet nie!)
Hoe Kan Ons Vir Seker Weet Dat Ons Hemel Toe Sal Gaan?
Volgens ʼn Barna opname is daar vir elke Amerikaner wat glo dat hy of sy Hel toe gaan 120 wat glo hulle gaan Hemel toe. Tog het Christus iets anders gesê, “Gaan in deur die nou poort, want breed is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” Matthéüs 7:13-14).
Die Hemel is dus nie van nature ons bestemming nie. Niemand gaan outomaties daarheen nie. Tensy daar afgereken is met ons sondeprobleem, is die enigste plek waarheen ons kan gaan die Hel, ons ware natuurlike bestemming wanneer ons dood gaan. In die Bybel praat Jesus meer van die Hel as enige iemand anders (Matthéüs 10:28; 13:40-42; Markus 9:43-44). Hy verwys daarna as ʼn werklike plek en beskryf dit in grafiese terme – ingeslote verwoede vure en die wurm wat nie dood gaan nie. Christus sê die ongeredde “sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van tande” (Matthéüs 8:12).
Is dit moontlik om vir seker te weet dat ons Hemel toe gaan? Die apostel Johannes het gesê, “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het” (1 Johannes 5:13). Ons kan dus vir seker weet dat ons Hemel toe sal gaan as ons dood gaan.
Weet jy? As jy nie weet nie, lees asseblief aandagtig die laaste paar bladsye van hierdie boekie. Dit mag dalk die heel belangrikste ding wees wat jy ooit gelees het. (Wat kan vir jou meer belangrik wees as om te oorweeg of jy Hemel of Hel toe gaan?)
Om te sondig is om kort te skiet aan God se heilige standaard. Dis sonde wat veroorsaak het dat Eden se paradys tot ʼn einde gekom het. En almal van ons, nes Adam en Eva, is sondaars. Jy is ook ʼn sondaar. “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Sonde skei ons van ʼn verhouding met God (Jesaja 59:2). Daar is ʼn groot afgrond tussen ons en God, en daar is niks wat ons kan doen om dit te oorbrug nie. Sonde mislei ons en en maak ons dink dat verkeerd reg is en reg verkeerd (Spreuke 14:12). Dit maak ons dink dat alles met ons reg is terwyl dit nie so is nie.
Sonde het verskriklike gevolge, maar God het ʼn oplossing voorsien: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Jesus Christus, die Seun van God, het ons so lief gehad dat Hy ʼn mens geword het om ons van ons sonde te verlos (Johannes 3:16). Hy het gekom om deel te hê aan ons menslikheid en swakheid, maar Hy het dit gedoen sonder om bevlek te raak met ons sondes (Hebreërs 2:17-18; 4: 15-16).
Jesus het gesterf op die kruis as die enigste een wat waardig was om die prys vir ons sondes te betaal soos deur die heiligheid van God vereis word (2 Korinthiërs 5:21). Op die kruis het hy die Hel wat ons verdien het op Homself geneem, om vir ons die Hemel te bekom wat ons nie verdien het nie.
Omdat Hy God is, en dus ook almagtig, het Jesus Christus uit die graf opgestaan, en sonde en die dood oorwin (1 Korinthiërs 15:3-4, 54-57).
Toe Hy op die kruis vir ons gesterf het, het Hy gesê, “Dit is volbring” (Johannes 19:30). Dit was die gewoonte om die Griekse woord wat met “dit is volbring” vertaal word oor skuldbriewe te skryf wanneer hulle gekanselleer was. Dit het beteken, “ten volle betaal.” Christus het dit gedoen sodat op die skuldbrief van ons sonde eens en vir altyd geskryf kon word, “ten volle betaal.”
Ons kan die Hemel binne gaan slegs wanneer Christus met ons sondes afgereken het. Ons kan nie self daarvoor betaal nie. Jesus het gesê, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12).
Christus se kruisdood, en sy opstanding, is die brug oor die afgrond wat ons van God skei. As gevolg van Jesus Christus se versoening vir ons sondes offer God aan ons sy genadegawe van vergifnis: “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighe-de nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons” (Psalm 103:10-12).
Om vergewe te wees moet ons ons sondes erken en bely: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spreuke 28:13). Vergifnis is nie vanselfspre-kend nie. Dit is afhangend van belydenis: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).
Christus offer aan enige iemand die genadegawe van vergifnis, verlossing, en die ewige lewe: “En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17).
Daar is geen daad van geregtigheid wat ons kan doen waarmee ons ʼn plek in die Hemel kan verdien nie (Titus 3:5). Ons kom na Christus met leë hande. Ons kan ons saligheid nie verdien nie: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie sodat, niemand kan roem nie” (Efésiërs 2:8-9). Hierdie genadegawe kan nie voor gewerk, verdien, of verwerf word nie. Dit is nie afhanklik van ons meriete of pogings nie maar geheel en al van Christus se opoffering in ons plek.
Dit is nou die tyd om dinge met God reg te maak. Bely jou sonde en aanvaar die offer van Jesus Christus in jou plek.
Jy is gemaak vir ʼn persoon en ʼn plek. Jesus is die persoon, en die Hemel is die plek. Hulle is in een pakkie – hulle kom saam. Jy kan die Hemel nie sonder Jesus kry nie, of Jesus sonder die Hemel nie.
“Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” As jy Christus aangeroep het om jou te red, sal jy die ganse ewigheid hê, in die Nuwe Hemel en op die Nuwe aarde, om bly te wees jy het.
En ek sal uitsien om jou daar te sien!